45. “Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met 'n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog 'n bietjie water!’
46. Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee.
47. Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms.
48. Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.
49. “As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”
50. Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie.
51. Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”
52. Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig.
53. Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma.
54. Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”
55. Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog 'n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”
56. Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”
57. Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”
58. Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”Sy het geantwoord: “Ja!”
59. Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan.
60. Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:“Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word,mag hulle die stede van hulle vyande verower!”
61. Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.