Genesis 13:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Abram het uit Egipte na die Suidland toe getrek, hy en sy vrou met al sy besittings, en Lot saam met hom.

2. Abram was baie ryk aan vee en silwer en goud.

3. Hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek na Bet-El toe, na die plek waar sy tente aan die begin gestaan het, tussen Bet-El en Ai,

4. die plek waar hy vroeër 'n altaar gebou het. Daar het Abram die Naam van die Here aangeroep.

5. Lot, wat saam met Abram getrek het, het self ook baie kleinvee en beeste en tente vir sy mense gehad.

6. Die land kon nie in Abram en Lot saam se behoeftes voorsien sodat hulle bymekaar kon bly nie. Hulle besittings was te veel; hulle kon nie bymekaar bly nie.

7. Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon. Daar het toe 'n getwis ontstaan tussen Abram se veewagters en Lot s'n.

8. Toe sê Abram vir Lot: “Daar behoort nie 'n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie.

Genesis 13