15. Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings.
16. Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig;
17. maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak.
18. Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly,
19. want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan.
20. Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
21. want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
22. As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie.
23. Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;
24. maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.
25. Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê.