9. Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”
10. Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en maak soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis sit. Jy moet niks nalaat van wat jy voorgestel het nie.”
11. Haman het toe die kleed en die perd gevat, die kleed vir Mordegai aangetrek, hom oor die stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”
12. Daarna is Mordegai terug na die poort van die paleis toe, maar Haman is haastig huis toe, ontnugter en skaam.
13. Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende alles vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres sê toe: “As dit so is dat Mordegai, voor wie jy hierdie eerste vernedering ondergaan het, tot die Joodse volk behoort, sal jy nie kan standhou voor hom nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”
14. Terwyl hulle nog met hom praat, kom die paleisbeamptes van die koning en neem vir Haman vinnig na die onthaal toe wat Ester voorberei het.