Esra 8:26-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud,

27. twintig komme van goud met 'n gesamentlike gewig van ag en 'n half kilogram, en twee stukke van fyn gepoleerde brons, so kosbaar soos goud.

28. Daarna het ek vir die twaalf priesters gesê: “Julle is aan die Here gewy, hierdie goed is ook aan Hom gewy. Die silwer en die goud is vrywillige gawes aan die Here die God van julle voorvaders.

29. Wees wakker, pas dit op totdat julle dit uitweeg voor die hoofde van die priesters en die Leviete en voor die familiehoofde van Israel in Jerusalem binne in die tempelvertrekke.”

30. Die priesters en die Leviete het toe die silwer, die goud en die tempelgereedskap wat afgeweeg is, in ontvangs geneem om dit na Jerusalem toe te vat, na die tempel van ons God toe.

31. Ons het van die Ahawarivier af vertrek op die twaalfde van die eerste maand, op pad Jerusalem toe. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande en rowers langs die pad nie.

32. Ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gerus.

Esra 8