Esegiël 5:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Mens, vat 'n skerp swaard en gebruik dit vir 'n skeermes en skeer af jou hare en jou baard. Vat dan 'n skaal en deel die hare in drie.

2. 'n Derde moet jy binne-in die stad verbrand sodra die beleg verby is, 'n derde moet jy met die swaard rondom die stad fynkap, en 'n derde moet jy deur die wind laat wegwaai. Ek sal hulle met die swaard agtervolg.

3. Jy moet 'n klompie hare agterhou en in die vou van jou klere toemaak,

4. en van hulle moet jy nog 'n paar vat en in die vuur gooi en verbrand. Daar sal 'n vuur daarvandaan uitgaan na die hele Israel toe.”

5. So sê die Here my God: “Hier is Jerusalem tussen die nasies waar Ek hom geplaas het, met ander lande rondom hom.

6. Maar hy het hom verset teen my bepalings en my voorskrifte, hy was erger as die nasies en die lande rondom hom. Sy inwoners het my bepalings verwerp en het nie volgens my voorskrifte geleef nie.”

7. So sê die Here my God: “Julle het erger te kere gegaan as die nasies rondom julle toe julle nie volgens my voorskrifte en my bepalings geleef het nie; julle het nie eens volgens die gebruike van die nasies rondom julle geleef nie.

8. “Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou ook jou teenstander word, Jerusalem, Ek gaan jou straf voor die oë van die nasies.

9. Ek gaan oor al jou afskuwelike dade aan jou doen wat Ek nog nie gedoen het nie en nie weer sal doen nie.

10. Vaders sal hulle eie kinders eet in jou, en kinders sal hulle eie vaders eet. Ek gaan jou straf en al jou inwoners wat oorbly, in alle windrigtings verstrooi.

11. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “omdat jy my heiligdom met al jou walglikhede, met al jou afskuwelikhede verontreinig het, gaan Ek jou kaalstroop sonder medelye, sonder genade.

12. Een derde van jou inwoners sal van pes doodgaan of van honger omkom in jou, een derde sal rondom jou met die swaard doodgemaak word en een derde sal Ek na alle windrigtings toe verstrooi en met die swaard agtervolg.

13. Dan sal my toorn gekoel wees en sal Ek my woede teen hulle tot bedaring bring en sal Ek tevrede gestel wees. Wanneer Ek so my woede op hulle gekoel het, sal hulle besef dat Ek, die Here, hulle aangespreek het omdat Ek oor hulle begaan was.

Esegiël 5