1. “Wanneer julle die land deur loting verdeel om aan elke stam sy besitting toe te ken, moet julle 'n stuk grond van twaalf en 'n half kilometer lank en tien kilometer breed as 'n offergawe aan die Here gee. Die hele stuk grond sal aan die Here gewy wees.
2. Hiervan moet 'n stuk van twee honderd en vyftig meter in die vierkant aan die heiligdom behoort, met 'n oop strook van vyf en twintig meter rondom.
3. Van die hele gebied wat afgemeet is, moet julle 'n stuk afmeet van twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed; daarop moet die heiligdom met die Allerheiligste staan.
4. Hierdie gebied is die gewyde gebied in die land. Dit is tot beskikking van die priesters wat in die heiligdom diens doen en wat by die altaar mag kom om die diens aan die Here te verrig. Daar kan hulle huise kom, en die grond wat aan die heiligdom behoort, val in dié gedeelte.
5. Die oorblywende gedeelte van twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed is vir die Leviete wat in die tempel diens doen; dit is hulle eiendom, daar kan hulle woon.