Esegiël 43:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daarna het die man my na die poort toe gebring wat oos gekyk het.

2. Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit. Die stem van die Here was soos die gedruis van baie waters, en sy magtige verskyning het die hele aarde verlig.

3. Die gesig wat ek gesien het, het ooreengekom met die gesig wat ek gesien het toe ek die verwoesting van die stad moes aankondig, en ook met die gesig wat ek aan die Kebarrivier gesien het. Ek het platgeval.

4. Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg.

5. Toe het die Gees my opgetel en my na die binneste voorhof toe gebring. Die tempel was vol van die magtige teenwoordigheid van die Here.

6. Terwyl die man met die meetstok daar langs my staan, hoor ek Iemand met my uit die tempel uit praat.

7. Hy het vir my gesê: “Mens, dit is die plek waar Ek my troon het, waar Ek vir altyd teenwoordig is tussen die Israeliete. Hulle en hulle konings sal nie weer my heilige Naam oneer aandoen deur afgodery te pleeg en die lyke van hulle konings hier te begrawe nie.

8. Die konings het hulle paleis se drumpel en deurkosyn teenaan my huis s'n gesit, sodat daar net 'n muur tussen ons was en hulle het my heilige Naam oneer aangedoen met hulle afskuwelike optrede. Daarom het Ek hulle in my toorn vernietig.

9. As die volk nou hulle afgodery laat staan en die lyke van hulle konings uit my teenwoordigheid wegvat, sal Ek altyd tussen hulle woon.

Esegiël 43