Esegiël 4:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Mens, vat 'n baksteen, sit dit voor jou neer en teken daar 'n stad op: Jerusalem.

2. Beleër die stad; bou beleëringswerke, gooi 'n beleëringswal teen hom op, slaan 'n kamp op, stel stormramme rondom hom op.

3. Vat dan 'n ysterplaat en laat hom 'n ystermuur wees tussen jou en die stad. Kyk na die stad toe. Hy moet beleër wees, en jy moet hom beleër. Dit is 'n teken vir Israel.

4. “Dan moet jy op jou linkersy gaan lê en die sonde van die volk Israel op jou neem. Jy moet hulle sonde dra die volle getal dae dat jy op jou sy lê.

5. Soveel jare as wat hulle bly sondig het, soveel dae lê Ek jou op: drie honderd en negentig dae lank moet jy die sonde van die volk Israel dra.

6. En as jy daarmee klaar is, moet jy op jou regtersy lê en die sonde van die volk Juda dra, veertig dae lank: Ek lê jou 'n dag op vir elke jaar.

7. “Kyk stip na die beleëring van Jerusalem, dreig die stad, tree as profeet op teen hom.

8. Ek bind jou met toue vas, sodat jy nie van die een sy op die ander kan draai voor jy klaar is met die beleëring nie.

9. “Vat koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt, sit dit in 'n skottel en maak vir jou kos daarvan. Jy moet daarvan eet so lank jy op jou sy lê, drie honderd en negentig dae lank.

10. Die kos wat jy elke dag moet eet, moet twee honderd en dertig gram weeg, en jy moet dit met tussenposes eet.

Esegiël 4