Esegiël 39:4-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Jy en al jou hordes en die ander volke wat tot jou beskikking is, sal op die berge van Israel sneuwel. Ek sal jou vir al die roofvoëls en die roofdiere gee om op te vreet.

5. Jy sal in die oop veld sneuwel, want Ek het gepraat,” sê die Here my God.

6. “Ek sal vuur instuur in Magog se land en onder die sorgelose kuslandbewoners, en hulle sal besef dat Ek die Here is.

7. “Ek sal my heilige Naam laat ken onder my volk Israel; hulle sal my heilige Naam nooit weer oneer aandoen nie, en die ander nasies sal besef dat Ek die Here is, die Heilige van Israel.

8. Dit kom, dit sal gebeur,” sê die Here my God. “Dit is die tyd waarvan Ek gepraat het.

9. Die inwoners van die stede van Israel sal uitkom en met jou hordes se wapens vuurmaak. Hulle sal vuurmaak met groot skilde, klein skilde, boë, pyle, steekspiese en werpspiese, hulle sal sewe jaar lank met hulle vuurmaak.

10. Hulle sal nie hout uit die veld hoef aan te dra of in die bos hoef te gaan kap nie, want hulle sal vuurmaak met jou wapens. Hulle sal dié plunder wat hulle geplunder het en die besittings buit van dié wat hulle s'n gebuit het,” sê die Here my God.

11. “Daardie dag sal Ek vir Gog 'n plek gee om begrawe te word in Israel, in Reisigersvallei, oos van die Dooie See. Die graf sal die reisigers se pad versper. Gog en al sy hordes sal daar begrawe word, en die plek sal die naam kry Vallei van die Gog-hordes.

12. Dit sal Israel sewe maande neem om Gog en sy hordes te begrawe en so die land te reinig.

13. Hulle sal begrawe word deur al die mense in die land en dit sal vir hulle roem bring die dag wanneer Ek My laat ken as die magtige God,” sê die Here my God.

14. “Daar sal mense afgedeel word om die land deur te gaan en skoon te maak deur al die lyke wat in die land oorbly, te begrawe. Na sewe maande sal hulle die land deursoek:

15. hulle sal deur die land gaan en wanneer iemand 'n been sien, sal hy dit met 'n stapel klippe merk sodat dié wat die begraafwerk doen, dit in die Vallei van die Gog-hordes kan gaan begrawe.

16. So sal die land gereinig word. Daar sal ook 'n stad wees wat na die hordes vernoem is.”

Esegiël 39