2. Ek sal jou in 'n ander rigting laat draai en jou aan die hand lei en jou uit die verre noorde laat uitkom en jou die berge van Israel laat inval.
3. Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val.
4. Jy en al jou hordes en die ander volke wat tot jou beskikking is, sal op die berge van Israel sneuwel. Ek sal jou vir al die roofvoëls en die roofdiere gee om op te vreet.
5. Jy sal in die oop veld sneuwel, want Ek het gepraat,” sê die Here my God.
6. “Ek sal vuur instuur in Magog se land en onder die sorgelose kuslandbewoners, en hulle sal besef dat Ek die Here is.
7. “Ek sal my heilige Naam laat ken onder my volk Israel; hulle sal my heilige Naam nooit weer oneer aandoen nie, en die ander nasies sal besef dat Ek die Here is, die Heilige van Israel.
8. Dit kom, dit sal gebeur,” sê die Here my God. “Dit is die tyd waarvan Ek gepraat het.
9. Die inwoners van die stede van Israel sal uitkom en met jou hordes se wapens vuurmaak. Hulle sal vuurmaak met groot skilde, klein skilde, boë, pyle, steekspiese en werpspiese, hulle sal sewe jaar lank met hulle vuurmaak.
10. Hulle sal nie hout uit die veld hoef aan te dra of in die bos hoef te gaan kap nie, want hulle sal vuurmaak met jou wapens. Hulle sal dié plunder wat hulle geplunder het en die besittings buit van dié wat hulle s'n gebuit het,” sê die Here my God.