13. Hulle sal begrawe word deur al die mense in die land en dit sal vir hulle roem bring die dag wanneer Ek My laat ken as die magtige God,” sê die Here my God.
14. “Daar sal mense afgedeel word om die land deur te gaan en skoon te maak deur al die lyke wat in die land oorbly, te begrawe. Na sewe maande sal hulle die land deursoek:
15. hulle sal deur die land gaan en wanneer iemand 'n been sien, sal hy dit met 'n stapel klippe merk sodat dié wat die begraafwerk doen, dit in die Vallei van die Gog-hordes kan gaan begrawe.
16. So sal die land gereinig word. Daar sal ook 'n stad wees wat na die hordes vernoem is.”
17. “Mens, so sê die Here jou God, sê vir al die voëls en vir al die roofdiere: Kom bymekaar, kom, versamel van alle kante af rondom die offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied, die groot slagting op die berge van Israel; kom eet vleis en drink bloed.
18. Julle sal vooraanstaande mense se vleis eet en die bloed drink van regeerders van die aarde, almal in so 'n goeie kondisie soos die vet ramme en bulle van Basan.
19. Julle sal vet vleis eet tot versadigens toe en bloed drink tot julle dronk is, dié van my offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied.
20. Julle kan julle aan my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan dapper vegters en allerlei soldate,” sê die Here my God.
21. “Ek openbaar my mag aan die nasies: al die nasies sal die oordeel sien wat Ek bring, die mag waarmee Ek teen hulle optree.
22. Van daardie dag af en verder sal Israel besef dat Ek die Here hulle God is.
23. “Die ander nasies sal besef dat die Israeliete in ballingskap weggevoer is oor hulle sonde, hulle ontrou teenoor My, en dat Ek hulle verwerp het en hulle oorgegee het in die mag van hulle vyande om almal deur die swaard afgemaai te word.
24. Ek het dit aan Israel gedoen, Ek het hulle verwerp oor hulle onreinheid en hulle opstandigheid.”