Esegiël 24:2-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. “Mens, jy moet dié datum aanteken, presies dié datum. Die koning van Babel het Jerusalem vandag aangeval.

3. Vertel vir dié weerbarstige volk 'n gelykenis. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God:“Sit 'n pot op die vuur, sit dit open gooi daar water in.

4. Sit vleis daarin,net goeie vleis,boud en blad,en sit die beste bene by,

5. vat van die beste skape.Pak die brandhout in 'n ring onder die poten laat dit kook;maak die bene gaar saam met die vleis in die pot.”

6. So sê die Here my God: “Ellende wag vir die stad van bloedvergieting, die verroeste pot waarvan die roes nie wil afkom nie. Haal stuk vir stuk vleis uit, moenie uitsoek nie.

7. Die bloed wat deur die stad vergiet is, is binne-in hom; hy het dit op 'n kaal klip vergiet, hy het dit nie op die grond uitgegooi sodat die stof dit kon bedek nie.

8. My toorn het ontbrand, Ek sal wraak neem: Ek vergiet sy bloed op 'n kaal klip, dit sal nie bedek word nie.”

9. So sê die Here my God: “Ellende wag vir die stad van bloedvergieting. Ek gaan 'n groot hoop hout aanpak.

10. Sit baie hout op, steek die vuur aan, kook die vleis, roer die sous in, braai die bene!

11. Laat die pot dan leeg op die kole staan sodat die brons rooiwarm kan word en die onreinheid wat in die pot is, kan smelt en die roes kan afkom.

12. Maar dit bring net moeite, die baie roes brand nie van die pot af nie. Die roes aan die pot

13. is jou afstootlike onreinheid. Ek wou jou reinig, maar jy het nie rein geword nie. Jy gaan nou ook nie meer rein word voordat Ek my woede op jou gekoel het nie.

14. Ek, die Here, het gepraat. Dit kom, Ek gaan dit doen. Ek gaan nie maak of Ek niks sien nie, Ek gaan nie verskoon en nie jammer kry nie. Jy gaan gestraf word soos jy verdien, soos jou optrede dit eis,” sê die Here my God.

15. Die woord van die Here het tot my gekom:

16. “Mens, Ek gaan jou vrou wat jou soveel vreugde gee, van jou af wegvat deur 'n skielike dood. Jy mag nie treur en huil nie, nie 'n traan stort nie.

17. Jy moet in stilte sug, jy mag nie rou nie. Hou jou tulband op en jou skoene aan. Moenie jou baard bedek nie en moenie eet wat mense gewoonlik by so 'n geleentheid eet nie.”

18. Ek het die môre nog met die volk gepraat, en die nag het my vrou gesterf. Ek het die volgende oggend gedoen soos ek beveel is.

Esegiël 24