Esegiël 23:33-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Jy sal jou vol drink en dronk word van swaarkry;die beker wat jou suster Samaria moes drink,is 'n beker vol angs en skrik.

34. Jy sal hom leeg drink, alles opdrink,jy sal aan sy skerwe knaag,jy sal jou borste stukkend skeur.Ek, die Here, het gepraat,”sê die Here my God.

35. So sê die Here my God: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het, sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra.”

36. Die Here het vir my gesê: “Mens, oordeel jy oor Ohola en Oholiba. Vertel vir hulle van hulle afskuwelike dade.

37. Hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande. Hulle het owerspel gepleeg met hulle afgode en hulle het boonop hulle kinders wat hulle vir My in die wêreld gebring het, as offers laat verbrand.

38. Hulle het My ook nog dít aangedoen: hulle het my heiligdom ontwy en op dieselfde dag my sabbatte ontheilig;

39. hulle het hulle kinders vir hulle afgode geslag en op dieselfde dag in my heiligdom gekom en dit ontwy. Dit is wat hulle binne-in my huis gedoen het.

40. “Ja, jy het mans van ver af laat kom, jy het boodskappers na hulle toe gestuur en hulle het gekom. Jy het gebad, jou oë geverf en jou juwele aangesit.

41. Jy het op 'n pragtige bed gesit en voor jou was 'n gedekte tafel waarop jy my wierook en my olie gesit het.

42. “Die stemme van 'n sorgelose klomp was rondom haar. By dié manne is van al die baie mense wat daar is, ook nog mense van Seba uit die woestyn bygebring, en dié het vir die twee susters armbande aangesit en op hulle koppe pragtige kranse.

43. Ek het gedink: kom hulle owerspel pleeg met 'n vrou wat klaar opgebruik is? Het sy nou 'n gewone hoer geword?

44. Hulle het na haar toe gekom soos 'n mens na 'n hoer toe kom. So het hulle na Ohola en Oholiba, die afstootlike vrouens toe gekom.

45. Regverdige manne moet oor dié vrouens oordeel volgens die bepaling oor owerspel en die bepaling oor bloedvergieting, want hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande.”

46. So sê die Here my God: “Roep 'n volksvergadering teen hulle saam, maak van hulle iets waaroor mense met afgryse vervul word en laat hulle geplunder word.

47. Die volksvergadering moet hulle met klippe doodgooi en hulle met byle in stukke kap; hulle seuns en dogters moet doodgemaak en hulle huise verbrand word.

Esegiël 23