17. Dan sal Ek ook my hande inmekaar slaanen my toorn tot bedaring bring.Ek, die Here, het dit gesê.”
18. Die woord van die Here het tot my gekom:
19. “Mens, jy moet vir die koning van Babel se swaard twee paaie maak om op aan te kom. Die twee paaie moet uit dieselfde land kom en jy moet 'n padwyser uitkap waar die pad na die stad toe begin. Jy moet dit uitkap
20. en die rigting aandui waarlangs die swaard kan kom na Rabba, die Ammonietestad toe, en na Juda, na die vestingstad Jerusalem toe.
21. Die koning van Babel staan by die kruispad waar die twee paaie begin, en hy soek na 'n teken, hy skud die pyle, hy raadpleeg sy afgodsbeeldjies, hy kyk na 'n dier se lewer.
22. Die teken wat hy gesoek het, kom in sy regterhand: Jerusalem! Die koning van Babel gaan stormramme regmaak, die bevel gee om aan te val, oorlogskrete skreeu, die stormramme teen die poorte opstel, 'n beleëringswal opgooi, beleëringswerke bou.
23. Die mense in Jerusalem sal dink dis 'n vals teken, want hulle het plegtige ede afgelê aan die koning van Babel. Maar hy sal hulle herinner aan hulle oortreding en hy sal hulle aanval.