Esegiël 20:3-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. “Mens, praat met die leiers van Israel. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Het julle gekom om My te raadpleeg? So seker as Ek leef, Ek laat My nie deur julle raadpleeg nie, sê die Here my God.

4. Oordeel jý oor hulle, mens, oordeel jý. Vertel vir hulle van die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het.

5. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: Die dag toe Ek Israel, die nageslag van Jakob, gekies het en My met 'n eed aan hulle verbind het, het Ek My aan hulle bekend gemaak in Egipte. Ek het My met 'n eed aan hulle verbind en gesê: ‘Ek, die Here, is julle God.’

6. Ek het My daardie dag met 'n eed verbind om hulle uit Egipte uit te bring na 'n land toe wat Ek vir hulle verken het, 'n land wat oorloop van melk en heuning, 'n sieraad onder al die lande.

7. Ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg die afstootlike afgode, moet julle nie verontreinig met Egipte se afgode nie. Ek, die Here, is julle God.’

8. Maar hulle het hulle teen My verset, hulle wou nie na My luister nie. Hulle het nie hulle afstootlike afgode weggegooi nie en het nie afgesien van Egipte se afgode nie. Ek het gedink Ek sal my toorn oor hulle laat losbreek en my woede op hulle koel daar in Egipte,

9. maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies tussen wie my volk gewoon het nie, en toe het Ek My bekend gemaak aan hulle voor die oë van die nasies en my volk uit Egipte gebring.

10. “Ek het hulle uit Egipte gebring en hulle die woestyn in laat trek.

Esegiël 20