23. Ek het ook daar in die woestyn 'n eed afgelê dat Ek hulle onder die nasies sou verstrooi, hulle oor ander lande sou versprei.
24. Hulle het immers nie my bepalings nagekom nie, hulle het my voorskrifte verwerp, my sabbatte ontheilig en by hulle voorvaders se afgode hulp gesoek.
25. Ek het vir hulle voorskrifte gegee wat nie goed was nie en bepalings waardeur hulle nie in die lewe kon bly nie.
26. Ek het hulle onrein laat word deur hulle offergawes waarin hulle al hulle eersgeborenes verbrand het, Ek wou hulle skrikbevange maak sodat hulle sou besef dat Ek die Here is.
27. “Praat met Israel, mens, sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle voorvaders het My ook nog in my eer aangetas deur heeltemal ontrou aan My te word.
28. Ek het hulle na die land toe gebring wat Ek met 'n eed beloof het om aan hulle te gee, en hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom wat hulle gesien het, hulle diereoffers gebring, hulle geskenke neergesit wat My gekrenk het, hulle wierookoffers verbrand en hulle drankoffers uitgegiet.
29. Ek het vir hulle gesê: Wat se hoogte is dit waarnatoe julle gaan?”Dié soort plek word vandag nog 'n hoogte genoem.
30. “Sê vir Israel: So sê die Here my God: Julle het julle verontreinig op dieselfde wyse as julle voorvaders en julle het in julle ontrou aan My hulle afstootlike afgode gedien.
31. As julle vir die afgode geskenke aandra en julle kinders as offers verbrand, as julle julle nog steeds verontreinig met julle afgode, moet Ek My deur julle laat raadpleeg, Israel? So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie.
32. Wat in julle gedagtes opgekom het, sal nie gebeur nie. Julle dink: ons wil soos die ander nasies wees, soos die mense in ander lande, ons wil hout en klip dien.
33. “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal oor julle regeer met mag en krag en Ek sal my toorn oor julle laat losbreek.