1. Die woord van die Here het tot my gekom:
2. “Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het.
3. Jy moet sê: So sê die Here my God vir Jerusalem: Kanaän is die land van jou herkoms en jou geboorte. Jou pa was 'n Amoriet, jou ma 'n Hetiet.
4. Toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie, jy is nie gebad nie, nie met sout ingevryf nie en nie in doeke toegedraai nie.
5. Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is.
6. “Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef,
7. groei!’“Ek het jou soos 'n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n pragtige meisie geword, jou borste het styf geword en jou hare lank. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie.