7. 'n Gerub het sy hand daar tussen die gerubs uit na die vuur toe uitgesteek wat tussen die gerubs was, en kole gevat en dit gesit in die twee hande van die man met die linneklere aan. Die man het dit gevat en uitgekom.
8. Onder die vlerke van die gerubs het iets sigbaar geword; dit het gelyk soos menshande.
9. Ek het langs die gerubs vier wiele gesien, een langs elke gerub. Die voorkoms van die wiele was dié van edelstene.
10. Hulle het eenders gelyk, en dit was of daar 'n wiel dwars binne 'n wiel was.
11. Hulle kon beweeg in die rigting van enige van hulle vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie.
12. Die gerubs se lywe, hulle rûe, hulle hande en vlerke en al vier wiele was rondom vol oë.
13. Iemand het vir my gesê dit is wiele.
14. Elke gerub het vier gesigte gehad: die eerste was dié van 'n gerub, die tweede dié van 'n mens, die derde dié van 'n leeu, die vierde dié van 'n arend.
15. Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde wesens as wat ek by die Kebarrivier gesien het.