20. Die amptenare van die farao wat bang geword het toe hulle hoor wat die Here gesê het, het haastig hulle slawe en vee onder dak gebring,
21. maar dié wat hulle nie aan sy woorde gesteur het nie, het hulle slawe en vee buite laat bly.
22. Toe het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op dat daar hael oor die hele Egipte kan kom oor mens en dier, en oor al die plante van Egipte.”
23. Toe Moses sy kierie in die lug opsteek, het die Here donderslae en hael gestuur, en die blitse het tot op die grond geslaan. Die Here het die haelstorm oor Egipte laat losbars.
24. Die hael het geval; tussen die hael deur het die een blits op die ander gevolg, so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie.