Eksodus 9:13-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan na die farao toe en sê vir hom: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien,

14. anders gaan Ek jou hierdie keer met 'n groot ramp tref en ook jou amptenare en jou mense. Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie.

15. Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met 'n pes van die aarde af uitgewis het.

16. Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word.

17. Nog steeds hou jy jou groot teen my volk en laat jy hulle nie gaan nie.

18. Môre hierdie tyd gaan Ek 'n verskriklike swaar haelstorm laat losbars soos daar nog nooit in die bestaan van Egipte was nie.

19. Laat nou al jou vee en alles wat buite is, na veiligheid bring. Al die mense en diere wat buite is en nie onder dak gebring is nie, sal deur die hael doodgeslaan word.”

20. Die amptenare van die farao wat bang geword het toe hulle hoor wat die Here gesê het, het haastig hulle slawe en vee onder dak gebring,

21. maar dié wat hulle nie aan sy woorde gesteur het nie, het hulle slawe en vee buite laat bly.

22. Toe het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op dat daar hael oor die hele Egipte kan kom oor mens en dier, en oor al die plante van Egipte.”

Eksodus 9