Eksodus 8:4-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Die paddas sal op jou en op jou mense en al jou amptenare spring.”

5. Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie oor die kanale, riviere en moerasse. Laat daar paddas kom oor Egipte.”

6. Aäron swaai toe sy kierie oor al die water van Egipte en toe kom die paddas: Egipte was oortrek van hulle.

7. Tog het die towenaars met hulle towerkunste dieselfde gedoen en ook paddas oor Egipte laat kom.

8. Hierna roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer.”

9. Moses antwoord toe: “Soos dit U Majesteit behaag. Wanneer sal ek vir u, u amptenare en u mense bid dat die paddas heeltemal van u en u huise af weggevat kan word, en daar net in die Nyl nog van hulle sal oorbly?”

10. En die farao antwoord: “Doen dit môre.”Toe sê Moses: “Goed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie.

11. Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.”

12. Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het.

13. Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande.

14. Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink.

Eksodus 8