Eksodus 7:4-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hy sal wel nie na julle luister nie, maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar: met groot reddingsdade sal Ek die stamme van my volk Israel uit Egipte bevry.

5. As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is, en dan sal Ek Israel tussen hulle uit laat trek.”

6. Moses en Aäron het gedoen presies wat die Here hulle beveel het.

7. Moses was tagtig en Aäron drie en tagtig toe hulle met die farao gaan praat het.

8. Verder het die Here vir Moses en Aäron gesê:

9. “As die farao vir julle sê: ‘Doen bietjie 'n wonderteken,’ moet jy vir Aäron sê: Vat jou kierie en gooi dit voor die farao neer dat dit 'n groot slang word.”

10. Toe Moses en Aäron by die farao kom, het hulle gedoen wat die Here beveel het: Aäron het sy kierie voor die farao en sy amptenare neergegooi en dit het in 'n groot slang verander.

11. Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde:

12. soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in 'n groot slang. Maar toe sluk Aäron s'n hulle s'n in!

13. Tog het die farao koppig gebly en nie aan hulle versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

14. Die Here het vir Moses gesê: “Die farao bly onversetlik, hy hou aan weier om die volk te laat trek.

Eksodus 7