Eksodus 5:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. “Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak,

8. en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer.’

9. Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.”

10. Toe het die slawedrywers en die opsigters van die volk vir hulle gaan sê: “So sê die farao: Julle kry nie meer strooi nie.

11. Loop haal dit self waar julle dit ook al kan kry, maar aan die hoeveelheid werk word niks verminder nie.”

12. Die volk het toe dwarsoor Egipte stoppels bymekaargemaak,

13. en die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: “Julle moet nog elke dag net soveel lewer soos toe daar nog strooi verskaf is.”

14. Boonop het die farao se slawedrywers die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gesê: “Waarom het julle nie vandag net soos vroeër dieselfde hoeveelheid stene gemaak nie?”

15. Die Israelitiese opsigters kom kla toe by die farao: “Waarom maak u so met u werksmense?

16. Daar word nie meer strooi aan ons verskaf nie, en tog bly die drywers vir ons sê: ‘Maak bakstene!’ Ons word mishandel, maar eintlik lê die fout by ú mense.”

17. Toe sê die farao: “Julle is lui! Lui! Dit is dié dat julle bly sê: ‘Ons wil vir die Here gaan offer.’

18. Loop! Gaan werk! Hulle sal nie meer vir julle strooi gee nie, maar julle kwota bakstene sal julle lewer.”

Eksodus 5