18. Die ander twee punte van die kettinkies is aan die twee monterings aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed vasgemaak.
19. Hulle het nog twee goue ringe gemaak en dit vasgewerk aan die onderste hoeke van die borssak, aan die agterkant waar dit teen die skouerkleed is.
20. Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vasgesit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel.
21. Die ringe van die borssak is met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. Dit alles is gedoen volgens die voorskrif van die Here aan Moses.
22. Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, is as een stuk blou wolstof geweef.
23. In sy middel was daar 'n opening omgeboor, sterk soos 'n pantserhemp dat dit nie kan skeur nie.
24. Vir die some van die mantel het hulle granaatjies gemaak van goed geweefde blou, pers en bloedrooi wolstof.
25. Dan het hulle ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies rondom die hele soom van die mantel vasgewerk,
26. een klokkie tussen elke twee granaatjies. Die mantel was vir diens bestem soos die Here dit vir Moses beveel het.
27. Hulle het ook priesterklere van linne geweef vir Aäron en sy seuns,
28. asook 'n tulband en mooi kopdoeke van linne, en linnebroeke van goed geweefde linne.
29. Hulle het ook 'n serp gemaak van goed geweefde linne, blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was weefwerk, soos die Here vir Moses beveel het.
30. Hulle het 'n blom van suiwer goud vir die gewyde tulband gemaak en daarop, soos op 'n seëlring, gegraveer: Aan Die Here Gewy.
31. Dit is met 'n blou toutjie aan die voorkant van die tulband vasgemaak, soos die Here vir Moses beveel het.
32. Uiteindelik was al die werk vir die tabernakel, die tent van ontmoeting, klaar. Die Israeliete het alles gemaak presies net soos die Here vir Moses beveel het.
33. Hulle het die tabernakel, die tent met al sy toebehore, na Moses toe gebring: die kramme, die rame, die dwarslatte, die style met hulle voetstukke;
34. die seil van rooigekleurde ramsvel, die seil van gebreide vel, die voorhangsel,
35. die ark met die getuienis, die draaghoute, die deksel,