Eksodus 37:7-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Hy het twee gerubs van geslae goud gemaak, een links en een regs op die deksel.

8. Hy het die gerubs aan weerskante van die deksel so gemaak dat hulle 'n eenheid met die deksel gevorm het.

9. Hulle vlerke was uitgesprei oor die deksel, sodat hulle dit bedek het. Die gerubs se gesigte was na mekaar toe en hulle het afgekyk op die deksel.

10. Besaleël het 'n tafel van doringhout gemaak. Sy lengte was een meter, sy breedte 'n half meter en sy hoogte 'n driekwart meter.

11. Hy het dit met suiwer goud oorgetrek en 'n goue lys rondom vasgesit.

12. Hy het 'n band, sewe sentimeter breed, rondom die tafel gesit en daarrondom 'n goue lys vasgesit.

13. Hy het vier goue ringe vir die tafel gegiet en dit aan die vier hoeke vasgesit, regoor die vier pote.

14. Die ringe was naby die band sodat die draaghoute deur hulle gesteek kon word om die tafel mee te dra.

Eksodus 37