6. Toe het Moses in die kamp rond laat weet dat die mense nie meer iets as offergawe vir die heiligdom moet gee nie, en eers toe het die volk opgehou bring.
7. Daar was meer as genoeg om al die werk te doen, daar was selfs nog oor.
8. Die begaafde vakmanne het met die werk aan die tabernakel begin. Hulle het tien stukke materiaal van goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof gebruik en gerubs daarop uitgeborduur.
9. Die lengte van elke stuk materiaal was veertien meter en die breedte twee meter, almal was presies ewe groot.
10. Die stukke materiaal is vyf-vyf aanmekaar gewerk.
11. Daar is toe blou lissies vasgewerk aan die een kant van die een strook materiaal en so ook aan die een kant van die ander strook,
12. vyftig vir die een en vyftig vir die ander strook. Die lissies was presies reg teenoor mekaar.
13. Hulle het vyftig goue hakies gemaak om die twee stelle doeke aanmekaar te hou sodat die tabernakel een geheel kon wees.
14. Daar is 'n tent van bokhaarmateriaal gemaak om oor die tabernakel te sit. Elf stukke bokhaarmateriaal is gebruik
15. en elke stuk materiaal was vyftien meter lank en twee meter breed. Die elf stukke was almal presies ewe groot.
16. Hulle het eers vyf stukke aanmekaar gewerk en toe die ses ander stukke.
17. Hulle het daarna vyftig lissies gemaak vir die een kant van die een strook en so ook vyftig vir die een kant van die ander strook.
18. Hulle het vyftig bronshakies gemaak om die tent aanmekaar te hou sodat dit een geheel kon wees.
19. Hulle het verder ook 'n seil van rooigekleurde ramsvelle gemaak en 'n seil van gebreide vel daarbo-oor gespan.