30. Daar was dus ag rame met hulle sestien silwervoetstukke, twee voetstukke vir elke raam.
31. Hulle het dwarslatte van doringhout gemaak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel
32. en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel.
33. Daar was 'n middelste dwarslat wat in die middel van die rame dwarsdeur geloop het van die een kant af tot by die ander kant.
34. Die rame is met goud oorgetrek en vir hulle is goue ringe gemaak om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte is ook met goud oorgetrek.
35. Hulle het 'n voorhangsel gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Gerubs is daarop uitgeborduur.
36. Hulle het toe, om die voorhangsel op te hang, vier doringhoutstyle gemaak en dit met goud oorgetrek. Daar was goue kramme aan die style, en hulle het ook vier silwervoetstukke daarvoor gegiet.