Eksodus 30:17-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Die Here het vir Moses gesê:

18. “Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin.

19. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was.

20. Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek,

21. moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.”

22. Die Here het vir Moses gesê:

23-24. “Gebruik die standaardmaat van die heiligdom en meet die volgende speserye af: vyf honderd dele vloeibare mirre, die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig dele geurige kalmoes, vyf honderd dele kassie, en vier liter olyfolie.

25. Maak daarvan gewyde salfolie, goed gemeng soos wanneer 'n vakman parfuum maak. Dit is die gewyde salfolie.

26. “Jy moet die tent van ontmoeting en die ark waarin die getuienis is, daarmee salf,

27. en verder ook nog die tafel met al sy toebehore, die kandelaar met al sy toebehore, die wierookaltaar,

28. die brandofferaltaar met al sy toebehore, en ook die waskom met sy voetstuk.

29. Jy moet dit wy en dan sal dit besonder gewyd wees. Alles wat daaraan raak, sal ook gewyd wees.

30. “Jy moet ook vir Aäron en sy seuns salf en hulle so wy om as priesters vir My diens te doen.

31. Sê vir die Israeliete: Dit is die gewyde salfolie wat deur al julle geslagte heen aan My sal behoort.

32. Dit mag nie sommer op enige mens uitgegiet word nie. Hierdie mengsel mag julle vir geen ander doel gebruik nie. Dit is gewy en dit moet vir julle gewyd wees.

Eksodus 30