Eksodus 28:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Jy moet goue monterings maak

14. en van suiwer goud ook twee kettinkies, gedraai soos tou. Sit hierdie gedraaide kettinkies aan die monterings vas.

15. “Maak 'n borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis. Dit moet netjies geborduur wees soos die skouerkleed, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne.

16. Die borssak moet dubbel gevou wees, vyf en twintig sentimeter in die vierkant.

17. Jy moet hierop vier rye edelstene monteer. Die eerste ry moet bestaan uit 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag;

18. die tweede uit 'n turkoois, 'n saffier en 'n jaspis;

19. die derde uit 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis,

20. en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering moet van goud wees.

21. Daar moet twaalf stene wees, een vir elke naam van die stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme moet daarop gegraveer word soos op 'n seëlring.

22. Jy moet van suiwer goud vir die borssak ook kettinkies maak, gedraai soos tou.

23. “Jy moet ook nog twee goue ringe maak vir die borssak en dit vassit aan die twee boonste hoeke daarvan.

24. Maak die twee goue kettinkies vas aan die twee ringe wat aan die hoeke van die borssak is.

25. Maak dan die ander punte van die twee kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed.

Eksodus 28