Eksodus 26:26-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. “Jy moet dwarslatte van doringhout maak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel

27. en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel.

28. Die middelste dwarslat moet in die middel van die rame dwarsdeur loop van die een kant af tot by die ander kant.

29. “Trek die rame met goud oor en maak vir hulle goue ringe om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte moet ook met goud oorgetrek word.

30. Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is.

31. “Jy moet 'n voorhangsel maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur.

32. Hang dit aan vier doringhoutstyle wat met goud oorgetrek is en wat op vier silwervoetstukke staan. Daar moet goue kramme aan die style wees

33. en jy moet die voorhangsel, met hakies aan die binnekant, ophang. Sit dan die ark met die getuienis daarin, agter die voorhangsel. Die voorhangsel moet vir julle die Heilige van die Allerheiligste skei.

34. Jy moet die deksel op die ark met die getuienis sit, in die Allerheiligste.

35. “Sit die tafel voor die voorhangsel, aan die noordekant van die tabernakel, en die kandelaar aan die suidekant, regoor die tafel.

36. “Jy moet vir die ingang van die tent 'n afskorting maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Dit moet borduurwerk wees.

Eksodus 26