18. “Maak twintig rame vir die raamwerk aan die suidekant, die regterkant van die tabernakel.
19. Verder moet jy veertig silwervoetstukke maak om onder die twintig rame te sit, twee voetstukke onder elke raam by sy twee tappe.
20. “Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, moet daar ook twintig rame wees.
21. Vir hulle moet daar ook veertig silwervoetstukke wees, twee voetstukke onder elke raam.
22. Jy moet ses rame maak vir die agterkant, die westekant van die tabernakel.
23. Jy moet ook nog twee rame maak vir die hoeke aan die agterkant van die tabernakel.
24. Hierdie rame moet van onder tot bo, tot by die boonste ring, versterk word. Hulle is die hoekrame.
25. Daar moet dus ag rame wees met hulle sestien voetstukke, twee voetstukke vir elke raam.
26. “Jy moet dwarslatte van doringhout maak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel
27. en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel.
28. Die middelste dwarslat moet in die middel van die rame dwarsdeur loop van die een kant af tot by die ander kant.
29. “Trek die rame met goud oor en maak vir hulle goue ringe om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte moet ook met goud oorgetrek word.
30. Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is.
31. “Jy moet 'n voorhangsel maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur.
32. Hang dit aan vier doringhoutstyle wat met goud oorgetrek is en wat op vier silwervoetstukke staan. Daar moet goue kramme aan die style wees
33. en jy moet die voorhangsel, met hakies aan die binnekant, ophang. Sit dan die ark met die getuienis daarin, agter die voorhangsel. Die voorhangsel moet vir julle die Heilige van die Allerheiligste skei.
34. Jy moet die deksel op die ark met die getuienis sit, in die Allerheiligste.
35. “Sit die tafel voor die voorhangsel, aan die noordekant van die tabernakel, en die kandelaar aan die suidekant, regoor die tafel.
36. “Jy moet vir die ingang van die tent 'n afskorting maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Dit moet borduurwerk wees.