Eksodus 22:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. In die geval van 'n geskil oor 'n bees of 'n donkie of 'n skaap of klere of enigiets wat weggeraak het, moet dié wat die goed eis, hulle saak voor God gaan stel. Die een wat deur God as die skuldige aangewys word, moet dubbel betaal aan die ander.

10. “Wanneer 'n man 'n donkie of 'n bees of 'n skaap of enige ander dier aan iemand anders gee om op te pas, en dit vrek of word verskeur of buitgemaak sonder dat daar 'n ooggetuie by is,

11. moet hy in wie se sorg dit gegee is, in die teenwoordigheid van die Here 'n eed teenoor die eienaar aflê dat hy wat dit moes oppas, dit nie gesteel het nie. Die eienaar moet sy woord aanvaar, en in so 'n geval hoef niks betaal te word nie.

12. As die dier egter gesteel is terwyl dit in die ander man se sorg was, moet die eienaar daarvoor vergoed word.

13. As dit deur wilde diere verskeur is, moet die eienaar by die verskeurde dier gebring word, en dan hoef niks betaal te word nie.

14. “Wanneer 'n man 'n dier van 'n ander leen, en dit word verskeur of gaan dood terwyl die eienaar nie by is nie, moet die eienaar ten volle daarvoor vergoed word.

15. As die eienaar by is, is daar nie 'n eis nie. As die dier gehuur was, moet die huur betaal word.”

16. “Wanneer 'n man 'n jongmeisie wat nog nie verloof is nie, verlei om met hom geslagsgemeenskap te hê, moet hy aan haar pa die volle bruidsprys betaal en met haar trou.

17. As haar pa volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy nogtans die volle bruidsprys vir jongmeisies betaal, en dit met silwer.

18. “Jy mag nie 'n towenares laat lewe nie.

19. “Elkeen wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word.

20. “Iemand wat aan enige god behalwe aan die Here offer, moet om die lewe gebring word.

21. “Jy mag nie 'n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte.

Eksodus 22