25. “As jy aan 'n arm man uit my volk geld leen, moet jy nooit teenoor hom soos 'n skuldeiser optree nie. Jy mag hom ook nie rente vra nie.
26. “As iemand sy klere by jou verpand, moet jy dit voor sononder teruggee,
27. want dit is al wat hy het om hom mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As hy My hieroor aanroep, sal Ek na hom luister, want Ek is barmhartig.
28. “Jy mag God nie vervloek nie en ook nie 'n leier van jou volk nie.
29. “Moenie talm met jou offers uit jou graan- en wynoes nie.“Die eersteling van jou seuns moet jy vir My gee.
30. Dit geld ook van jou beeste en kleinvee. Sewe dae kan die eerstelinge by hulle ma's bly, maar op die agste dag moet jy hulle vir My gee.
31. “Julle moet mense wees wat aan My gewy is. Julle mag nie vleis eet van diere wat in die veld verskeur is nie. Gooi dit vir die honde.”