Eksodus 22:16-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

2-4. As die gesteelde goed lewend in sy besit gevind word, moet hy dit dubbel vergoed, of dit nou beeste, donkies of skape is. 'n Dief moet ten volle vir sy diefstal vergoed. As hy niks besit nie, moet hy vir die waarde van die gesteelde goed verkoop word. As 'n dief inbreek en op heter daad betrap en doodgeslaan word, mag sy dood nie gewreek word nie. As dit egter na sonop gebeur, kan sy dood wel gewreek word.”

16. “Wanneer 'n man 'n jongmeisie wat nog nie verloof is nie, verlei om met hom geslagsgemeenskap te hê, moet hy aan haar pa die volle bruidsprys betaal en met haar trou.

17. As haar pa volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy nogtans die volle bruidsprys vir jongmeisies betaal, en dit met silwer.

18. “Jy mag nie 'n towenares laat lewe nie.

19. “Elkeen wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word.

20. “Iemand wat aan enige god behalwe aan die Here offer, moet om die lewe gebring word.

21. “Jy mag nie 'n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte.

22. “Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie.

23. As jy tog so iemand veronreg, en hy na My roep, sal Ek na sy hulpgeroep luister.

24. Dan sal my toorn ontvlam, en Ek sal jou om die lewe bring, sodat jou vrou 'n weduwee word en jou kinders weeskinders.

25. “As jy aan 'n arm man uit my volk geld leen, moet jy nooit teenoor hom soos 'n skuldeiser optree nie. Jy mag hom ook nie rente vra nie.

Eksodus 22