Die Openbaring 6:10-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?”

11. Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog 'n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.

12. Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het 'n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword.

13. Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van 'n vyeboom afval as dit deur 'n sterk wind geruk word.

14. Die hemel self het verdwyn soos 'n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud.

15. Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip.

16. Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam.

17. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”

Die Openbaring 6