Deuteronomium 9:20-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. “Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid.

21. Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.

22. “Julle het die Here ook nog by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.

23. “Toe die Here julle van Kades-Barnea af weggestuur het, het Hy gesê: ‘Trek op en neem die land wat Ek vir julle gegee het, in besit.’ Maar julle het in opstand gekom teen die bevel van die Here julle God. Julle het nie op Hom vertrou nie en Hom nie gehoorsaam nie.

24. Vandat ek julle leer ken het, was julle in opstand teen die Here.

25. “Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig.

26. Ek het tot Hom gebid: Here my God, moet tog nie u volk vernietig nie. Hy is u eiendom, U het hom gered toe U hom deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte laat wegtrek het.

27. Onthou tog u dienaars Abraham, Isak en Jakob. Moenie aandag gee aan die hardkoppigheid van hierdie volk nie, aan hulle opstandigheid en hulle sonde nie.

Deuteronomium 9