30. “Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam.
31. Die Here julle God is 'n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met 'n eed aan julle voorvaders bevestig het nie.
32. “Gaan stel ondersoek in na die verre verlede, na die dae lank voor julle tyd, van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het, van die een uiteinde van die hemel af tot by die ander uiteinde, en kyk of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is.
33. Het 'n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?
34. Het 'n god dit ooit gewaag om vir hom 'n nasie te kom vat by 'n ander nasie, en dít met rampe, tekens, wonders, oorlog, magtige dade, wonderlike, groot dade waarvoor mense vreesbevange word? Dit alles het die Here julle God voor julle eie oë in Egipte vir julle gedoen.
35. Dit is vir julle gewys dat julle kan besef die Here is God, en dat daar naas Hom nie 'n ander is nie.
36. Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig en Hy het julle sy groot vuur op die aarde laat sien en julle het sy woorde uit die vuur uit gehoor.
37. Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit
38. om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting. En so is dit nou nog.
39. “Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog 'n god nie.
40. Gehoorsaam sy voorskrifte en sy gebooie wat ek julle vandag beveel, sodat dit goed kan gaan met julle en julle nageslag en julle lank kan woon in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle wil gee.”
41. Toe het Moses drie stede oos van die Jordaan uitgesonder as stede
42. waarheen iemand kon vlug as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was. As hy dan na een van hierdie stede toe vlug, kon hy bly lewe.
43. Die stede was: Beser in die Woestynhoogvlakte vir Ruben, Ramot in Gilead vir Gad, en Golan in Basan vir Manasse.