16. Moenie julle eie ondergang soek deur vir julle 'n afbeelding as afgodsbeeld te maak nie: nie van 'n man of 'n vrou nie,
17. nie van enige dier op die aarde of van enige voël in die lug nie,
18. nie van enigiets wat op die aarde kruip of van enige vis in die waters onder die aarde nie.
19. “Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde.
20. “Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is.
21. Deur julle toedoen het die Here vir my kwaad geword en dit met 'n eed bevestig dat ek nie deur die Jordaan sou gaan en in die goeie land sou kom wat die Here julle God aan julle as besitting sal gee nie.
22. Ek sal in hierdie land sterf. Ek sal nie die Jordaan oorsteek nie, maar julle sal deurtrek en daardie goeie land in besit neem.
23. Wees versigtig om nie die verbond wat die Here julle God met julle gesluit het, te vergeet nie. Pas op om nie vir julle 'n afgodsbeeld te maak nie. Die Here jou God het jou dit verbied.
24. Die Here jou God is 'n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.