Deuteronomium 3:14-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Jaïr uit die nageslag van Manasse het die Argobstreek gevat tot by die grens van Gesur en Maäkat. Basan is toe na Jaïr vernoem, en dit staan nou nog bekend as die tentdorpe van Jaïr.

15. Ek het Gilead vir Makir gegee.

16. Ek het die gebied van Gilead af tot in die middel van die Arnonbedding vir die stamme Ruben en Gad gegee. Hulle noordgrens was Jabbokspruit, die grens van die Ammoniete se land,

17. en die wesgrens was die Jordaanvallei en die Jordaanrivier van Gennesaret af tot by die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, onderkant die Pisgahange net oos van die see.

18. “Ek het destyds vir die drie stamme gesê: Die Here julle God het hierdie land vir julle gegee as julle besitting. Maar julle gewapende manne, elke weerbare man, moet die Jordaan oorsteek voor julle volksgenote uit.

19. Net julle vrouens en kinders en vee, en ek weet julle het baie vee, mag agterbly in die stede wat ek vir julle gegee het.

Deuteronomium 3