Deuteronomium 29:4-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.

5. Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend afgeval van julle voete af nie.

6. Julle het nie brood geëet en wyn of bier gedrink nie sodat julle kon leer dat die Here julle God is.

7. Toe julle by hierdie plek aangekom het, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan opgetrek om teen ons oorlog te maak. Ons het hulle verslaan

8. en hulle land afgevat en dit as besitting gegee aan Ruben en Gad en aan die halwe Manassestam.

9. “Sorg dat julle doen wat hierdie verbond bepaal en lewe daarvolgens sodat julle voorspoedig sal wees in alles wat julle aanpak.

10. Julle staan vandag almal in die teenwoordigheid van die Here julle God. Julle is almal hier: hoofde, stamme, leiers, beamptes, elke Israeliet,

11. ook julle kinders en julle vrouens, selfs die vreemdeling wat by julle in die laer is, dié wat julle hout vir julle moet kap, en dié wat julle water vir julle moet aandra.

12. Julle staan hier sodat julle deel kan kry aan die verbond van die Here julle God wat Hy vandag onder eed met julle sluit,

13. sodat Hy julle vandag sy volk kan maak en Hy julle God kan word, soos Hy julle beloof het en soos Hy met 'n eed beloof het aan julle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob.

14. Die Here het gesê: ‘Dis nie net julle met wie Ek hierdie verbond onder eed sluit nie.’

15. Hy sluit die verbond met almal wat vandag hier saam met ons voor Hom, die Here ons God staan, maar ook met hulle wat nie vandag hier saam met ons is nie.

16. Julle weet hoe ons in Egipte gewoon het en hoe ons tussen die nasies deurgetrek het, en hoe julle waar julle verbygetrek het,

17. hulle afskuwelike afgodsbeelde van hout en klip, van silwer en goud by hulle gesien het.

Deuteronomium 29