Deuteronomium 28:40-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

40. Oral in jou grondgebied sal jy olyfbome hê, maar jy sal jou liggaam nie met hulle olie versorg nie, want die olywe sal afval.

41. Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal hulle nie behou nie, want hulle sal as ballinge weggevoer word.

42. Goggas sal jou bome en die opbrengs van jou lande oorneem.

43. Die vreemdeling wat by jou woon, sal meer en meer kry, en jy sal agteruitboer en minder en minder hê.

44. Hy sal aan jou leen, jy sal nie aan hom leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert.

45. Al hierdie strawwe sal oor jou kom. Hulle sal jou tref en by jou bly totdat jy uitgeroei is, omdat jy nie na die opdrag van die Here jou God geluister het nie en nie sy gebooie en voorskrifte wat Hy jou gegee het, gehoorsaam het nie.

46. Die gebooie en voorskrifte moet altyd vir jou en jou kinders 'n waarskuwingsteken wees.

47. “As jy die Here jou God nie met vreugde en blydskap dien nie omdat jy baie besit,

48. sal jy jou vyande wat deur die Here teen jou gestuur sal word, moet dien. Jy sal dit doen terwyl jy honger en dors en sonder klere is en gebrek ly, en jou vyand sal 'n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou uitgeroei het.

49. Die Here sal van ver af 'n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos 'n arend wat vlieg. Dit sal 'n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie,

50. 'n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, 'n nasie sonder genade.

51. Hy sal die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land opeet totdat hy jou uitgeroei het. Hy sal nie vir jou koring of wyn of olie laat oorbly nie, ook nie van die aanteel van jou grootvee en jou kleinvee nie. Jou vyand sal dit doen totdat hy jou ondergang bewerk het.

52. “Hy sal jou in al jou stede beleër totdat jou hoë stadsmure en jou vestings waarop jy staatmaak, dwarsdeur jou land afgebreek is. Hy sal jou beleër in al die stede van jou hele land wat deur die Here jou God aan jou gegee is.

53. Wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry, sal jy die vleis van jou eie kinders eet, jou seuns en dogters wat deur die Here jou God aan jou gegee is.

Deuteronomium 28