11. Die Here sal jou oorlaai met die goeie: met 'n nageslag, met die aanteel van jou vee, met die opbrengs van jou grond in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om aan jou te gee.
12. Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie.
13-14. “As jy luister na die Here jou God se gebooie wat ek jou vandag gee, as jy hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe en nie ander gode aanhang en dien en so afwyk van alles wat ek jou vandag beveel nie, sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en sal jy altyd bo wees, nie onder nie.
15. “As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref:
16. “Daar sal 'n vloek op jou rus in die stad, daar sal 'n vloek op jou rus in die oop veld.
17. “Daar sal 'n vloek rus op jou oesmandjie en op jou knieskottel.
18. “Daar sal 'n vloek rus op jou nageslag en op die opbrengs van jou lande, op jou kalweroes en jou lammeroes.
19. “Daar sal 'n vloek op jou rus waar jy ook gaan.
20. “Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.