Deuteronomium 14:23-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. jy moet dit in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te laat woon. Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer.

24. Maar as die Here jou God jou baie voorspoedig maak en die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig boonop nog ver van jou af is, sodat jy nie die tiende die hele ent pad kan dra nie,

25. kan jy die tiende in geld omsit. Jy moet dan die geld vat en na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom gekies het.

26. Daar moet jy met die geld koop net wat jy wil: bees, skaap, wyn, bier, of enigiets anders wat jy wil hê. Dan moet jy en jou familie dit daar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet en bly wees.

27. Moenie die Leviete wat in jou omgewing woon, vergeet nie, want hulle het nie 'n eie grondgebied as besitting saam met jou gekry nie.

28. “Om die drie jaar moet jy die volle tiende van daardie jaar se opbrengs in jou dorpe gaan wegpak.

29. Dan kan die Leviete wat nie 'n eie grondgebied as besitting saam met jou gekry het nie, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees in jou omgewing genoeg eet. As jy dit doen, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak.”

Deuteronomium 14