Deuteronomium 10:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel.

13. Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

14. Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

15. En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

16. “Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.

17. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

18. “Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere.

19. Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte.

20. Jy moet die Here jou God eer, Hom dien en aanhang, en wanneer jy 'n eed aflê, moet jy dit in sy Naam doen.

21. Jy moet Hom prys, want Hy is jou God en Hy het al hierdie magtige wonderdade wat jy met jou eie oë gesien het, vir jou gedoen.

Deuteronomium 10