Daniël 7:13-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. “My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos 'n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring.

14. “Aan dié menslike wese is die heerskappyen eer en koningskap gegeesodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien.Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy,dit sal nie tot niet gaan nie;sy koningskap sal nie ophou nie.

15. “Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik.

16. Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê:

17. Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan.

18. Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit.

19. “Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het.

20. Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

21. Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig.

Daniël 7