Daniël 2:33-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei.

34. Toe u nog so kyk, breek daar 'n klip los sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit.

35. Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het 'n groot rots geword en het die hele aarde bedek.

36. Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê.

37. “U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee.

38. Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud.

39. Ná u sal 'n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna 'n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer.

Daniël 2