9. Toe sê Dawid vir Rekab en sy broer Baäna, seuns van Rimmon die Beërotiet: “Ek verklaar voor die Here, my bevryder uit elke lewensgevaar:
10. Die man wat my in Siklag vertel het: ‘Saul is dood!’ het ek laat gryp en doodslaan as beloning vir so 'n boodskap, en hy het nogal gedink hy is iemand wat 'n goeie tyding bring.
11. Hoeveel te meer sal ek nie, noudat skurke 'n onskuldige man op sy bed in sy huis doodgemaak het, sy moord op hulle wreek en hulle van die aarde af wegvee nie!”
12. Toe het Dawid sy lyfwag beveel om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgesny en hulle by die dam van Hebron opgehang. Maar Is-Boset se kop het hulle gevat en in Abner se graf in Hebron gaan begrawe.