2 Samuel 3:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daar was 'n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid, maar Dawid het gaandeweg al hoe sterker geword en die nageslag van Saul al hoe swakker.

2. Die volgende seuns van Dawid is in Hebron gebore: Amnon, seun van Aginoam sy Jisreëlitiese vrou, was die oudste.

3. Sy tweede was Kilab seun van Abigajil, die weduwee van Nabal die Karmeliet. Absalom seun van Maäka, 'n dogter van koning Talmai van Gesur, was die derde,

4. en die vierde was Adonia seun van Gaggit. Die vyfde was Sefatja seun van Abital

5. en die sesde Jitream seun van Dawid se vrou Egla. Hulle is vir hom in Hebron gebore.

6. Onderwyl die oorlog tussen Saul se huis en dié van Dawid aan die gang was, het Abner geprobeer om sy posisie in Saul se huis te verstewig deur 'n verbintenis met 'n byvrou van Saul.

7. Haar naam was Rispa dogter van Aja.Toe Is-Boset hom vra: “Waarom het jy my pa se byvrou gevat?”

8. het Abner hom gruwelik oor dié woorde vererg en gesê: “Dink jy dan ek is 'n lae hond wat Juda se saak wil aanhelp? Tot nou toe was ek getrou aan die huis van Saul en aan sy broers én sy vriende. Ek het verhoed dat jy in Dawid se mag val, en nou spreek jy my aan oor 'n vergryp met hierdie vrou!

9. Mag God my om die lewe bring as ek nie nou vir Dawid gaan help om te doen wat die Here hom met 'n eed beloof het nie,

10. naamlik om die koningskap van die nageslag van Saul weg te vat en die heerskappy van Dawid oor Israel en Juda te bevestig, van noord tot suid.”

11. So bang was Is-Boset vir Abner dat hy nie 'n woord kon terugsê nie.

12. Hierna het Abner boodskappers na Dawid toe gestuur om te sê: “Behoort die land nie aan u nie? Sluit tog 'n ooreenkoms met my en u sal sien dat ek by u staan deur die hele Israel na u kant toe oor te haal.”

13. Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal 'n ooreenkoms met jou sluit. Ek verwag net een ding van jou, en dit is dat jy nie met my moet kom onderhandel sonder om Saul se dogter Mikal saam te bring nie.”

14. Dawid het ook boodskappers na Saul se seun Is-Boset toe gestuur om te sê: “Gee my vrou Mikal terug wat ek as vrou verkry het in ruil vir honderd Filistynse voorhuide.”

15. Is-Boset het gestuur en haar laat wegvat van haar man, Palti seun van Lajis.

16. Hy het saam met sy vrou geloop, huil-huil agter haar aan tot by Bagurim.Toe sê Abner vir hom: “Gee pad! Loop terug!”Hy het toe maar omgedraai.

2 Samuel 3