2 Samuel 14:7-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. En om dit nog erger te maak, is die hele familie nou teen my. Hulle eis: ‘Gee die kind wat sy broer doodgeslaan het. Ons wil hom doodmaak omdat hy sy broer doodgeslaan het. Al is hy die enigste erfgenaam, wil ons hom om die lewe bring.’ Hulle wil die enigste hoop wat vir my oor is, uitwis. Hy sal dus nie die familienaam kan voortsit nie, en daar sal niks van my man op die aarde oorbly nie.”

8. “Gaan maar huis toe,” sê die koning vir haar. “Ek sal self jou saak behartig.”

9. Maar die vrou sê: “U Majesteit, dit is ek en my gesin wat by hierdie saak betrokke is, nie u en u troon nie.”

10. Toe antwoord die koning: “As iemand net weer hieroor met jou praat, moet jy hom na my toe bring, en hy sal jou nie weer lastig val nie.”

11. Maar die vrou sê: “Sal die koning tog nie in die Naam van die Here u God onder eed verklaar dat die mense wat my seun moet straf, nie te ver sal gaan en hom doodmaak nie? Hulle moet hom tog nie om die lewe bring nie.”Toe sê die koning: “Ek verklaar voor die Here: Daar sal nie 'n haar van jou seun op die grond val nie.”

12. “Mag ek miskien net nog 'n enkele woord tot die koning rig?” vra die vrou.“Praat maar,” het die koning geantwoord.

13. Toe sê die vrou: “Waarom pleeg u dan 'n onreg teen die volk van God? Terwyl u hierdie uitspraak gelewer het, het u uself skuldig verklaar, omdat u weier om u verjaagde seun te laat terugkom.

14. Ons sal almal sterf en soos water wees wat op die grond uitgegooi is en nie weer bymekaargemaak kan word nie. God wil geen lewe neem nie, Hy berei 'n weg om die voortvlugtige nie te verstoot nie.

15. Ek het nou hierdie saak met die koning kom bespreek omdat die mense my bang gemaak het. Ek het gedink ek wil met die koning praat. Miskien doen die koning iets aan my saak.

16. Die koning sal beslis luister en my red uit die hand van dié mense wat my en my seun wil uitroei uit die volk van God.

17. Verder het ek gedink miskien sal die uitspraak van die koning 'n gerusstelling wees, want u is soos 'n engel van God wat na alles luister. Mag die Here u God met u wees.”

18. Die koning het vir die vrou gesê: “Jy moet asseblief niks vir my wegsteek van wat ek jou nou gaan vra nie.”Sy antwoord toe: “Die koning kan maar praat.”

19. Toe vra die koning: “Sit Joab nie agter hierdie ding nie?”Die vrou antwoord: “Ja-nee, U Majesteit, niemand kan u om die bos lei nie. Dit ís so. Joab wat in u diens staan, het my dié opdrag gegee. Hy het my haarfyn vertel wat om te sê.

20. Joab het dit gedoen om 'n verandering in die loop van sake te bring. Maar u praat byna met die wysheid van 'n engel van God: u weet werklik alles.”

21. Daarna het die koning vir Joab gesê: “Ek het nou eenmaal in die strik getrap. Gaan haal nou maar my seun Absalom.”

22. Joab het voor die koning op sy knieë geval en gebuig. Hy het die koning geprys met die woorde: “Vandag weet ek dat u my goedgesind is, want u het gedoen wat ek gevra het.”

23. Hy het toe opgestaan, na Gesur toe gegaan en vir Absalom na Jerusalem toe gebring.

24. Maar die koning het beveel: “Laat hom na sy eie huis toe gaan. Vir my mag hy nie sien nie.”Daarom is Absalom huis toe sonder om die koning te sien.

2 Samuel 14